Naar Thuisbladzijde
| BoereSport 2004 Op besoek by die Afrikaanse Boere-Gemeenskap in Argentinië
|
|
|
Inhoud Die Boeresports in Patagonië is ´n jaarlikse fees waar al
die Boerefamilies mekaar ontmoet en waaraan almal, van alle ouderdomme,
deelneem met sportkompetisies, dans, sing en baie ander feestelike
aktiwiteite. Hulle speel en dans ook tradisionele Boere-, Afrikaanse en
Argentynse volksmusiek; hulle hou verkiesings vir die 'Koningin van die
Boeresport', ensovoorts. |
Die hartseer begindae van die Boerekolonies Aan die begin van die 20ste eeu (in die jare 1899-1905, toe die Engelse Empire die Boere bitter onderdruk), kom die Boeregemeenskap aan op Comodoro Rivavadia, op soek na vryheid (klik hier vir meer geskiedkundige en aktuele inligting). Comodoro Rivadavia is deesdae 'n taamlike groot dorp aan die Atlantiese kus van Patagonia, Provincia Chubut (Argentina). Toentertyd was dit 'n klein dorpie. Daar moes die Boeresetlaars nog geruime tyd in tente bly. Dit was voordat die Argentynse regering vir elke gesin verskillende stukke grond gegee het (veral in die omgewing van die dorp Sarmiento), waarop die Boere hul huise kon bou. Daardie huise was met klippe of barro (dit is slik of modder – MRB) gebou. Hierdie gesinne het mekaar eerder as vriende beskou; hulle het eintlik een groot 'familie' gevorm. Met 'n hartseer hart moes hulle toe afskeid van mekaar neem, want elke gesin moes hom in sy eie nuwe tuiste vestig, op verskillende ver weg plekke. In daardie dae was die groot 'familie' geskeur, en kon hulle nie geweet het wanneer hulle mekaar weer sou ontmoet nie. Maar ná 3 jare besluit hulle om ´n reuse-saamtrek te organiseer, en so het die Boeresport uiteindelik begin! Daar het hulle gekampeer, spele gedoen, aan sports deelgeneem; net soos hulle Argentynse afstammelinge deesdae. Die tradisie van BoereSports word gehandhaaf Dié eerste saamtrek was op Solano Baai gehou, maar net een persoon van daardie mense wat beloof het om weer by sy mense aan te sluit, kon ongelukkig nie die okkasie belewe nie, omdat hy oorlede was. Egter, die vreugde wat hulle gevoel het was so intens; daar was mos vir die eerste keer die moontlikheid om hul herinneringe en lewensstories te deel met dié mense met wie hierdie avontuur op soek na die vryheid begin het. |
|
|
Hulle was so
entoesiasties dat hulle dit 8 dae lank gevier het. Hulle het die
Suid-Afrikaanse danse baie geniet, asook die tradisionele geregte, terwyl
hulle verskeie sportkompetisies gedoen het. |

|
Tradisioneel begin dié fees jaarliks op die derde Vrydag
van Februarie. Van die toetse is tiro al blanco (‘n tipe
skietwedstryd met teikens), perdereisies, en ook wedrenne met drie bene,
perdeysters, carretillas (kruiwaens – MRB), lepel-en-eier, ens.
Almal neem deel daaraan, van babetjies tot ouer mense; vrouens sowel as
mans. Op die end van die fees kry die wenners ´n prys. ![]() Hier speel die Boere die bekende wedren met drie bene; kyk hoe die mense met een van hul bene aan mekaar vasgebind is! Dertig jare lank was Pedro van Wyk die man wat vir die buffet gesorg het op hierdie ontmoetings. Dié werk was betaal, so hy het ´n persentasie van die inkomste vir sy verdienste ontvang en die oorskiet van daardie geld was bestem vir die koste wat hulle nog moes delg. Daarna was die 'bolichero', soos die man agter die buffet genoem word, se taak oorgedra aan Andrés Botha, wat nou al ses jare die gaste van drankies en kos voorsien. |
|
![]() Hierdie gemerkte hoefysters gooi hulle op ´n klein stuk grond. Jy moet hulle so naby as moontlik aan ‘n stok mik, en as jy die hoefyster om die stok gegooi het, sal jy baie punte wen! |
Hierdie land was uitgekies omdat dit sentraal geleë is en omdat dit genoeg plek het om perde- en hardloopkompetisies te doen. Die plek bestaan uit ’n vlakte van 800 meters groot. Die nedersetters is dikwels ’n hele jaar lank besig om hulle diere af te rig en gereed te maak om die beste resultate te kry, alhoewel hulle maar ´n klein prys vir al die moeite ontvang. Daar is mos nooit genoeg geld nie. Gedurende die eerste jare van die Sport was alkoholiese dranke verbode, en dobbelspele was ook ongewens. |
![]() Hier is ek besig om met my teenstander perdeyster te speel |
|
|
Hierdie fees was altyd uitsluitlik ’n fees vir die
Suid-Afrikaanse families. 'n Rukkie later oorweeg die Boere egter dat
hulle hierdie fees moes oopstel vir almal. Dus die saamtrekplek was weer
eens verander, en hulle het dit naby Comodoro Rivadavia (die stedeliker
Boeredorp aan die kus) en ook na Sarmiento (die Boere-plattelandsdorp)
geskuif, sodat meer mense daaraan kon deelneem. |
|
|
Die nuwe idees was uitgewerk en georganiseer deur Roberto Cleland, Rebecka Dickanson de Frances, Andrés Blackie, Juan Lubbe en Carlos Henning jr, met die hulp van die SA Klub se vriende. Hulle het die uitdaging aanvaar om die fees te reël met die bedoeling om hierdie geweldige tradisie te behou en te bewaar. Dus, gedurende die dae 15, 16, en 17 Februarie 1991 word die Sports weer op Sierra Chaira gevier, waaraan ´n aansienlike aantal persone deelneem. Dit gaan so voort tot op hede. |
|
Op daardie oomblik het hulle die vergadering gehou, met die bedoeling om die Suid-Afrikaanse Klub se kommissie te vernuwe, maar hierdie keer met ´n geskiedkundige feit vir die Suid-Afrikaanse gemeenskap; vrouens kry ook ‘n beslissende stem in die vergaderings gehad en hulle vorm ook ´n deel van die nuwe kommissie! |
|
|
Hierdie nuwe Boeresport sou nie moontlik gewees het
sonder die hulp van Sarmiento se winkels nie - hulle het die pryse vir die
kompetisies gratis gegee. ’n Groot hulp was ook die mense wat met hul
motors die grondpad, wat Sarmiento met Sierra Chaira (146 km.) verbind,
gereed te maak. Van daardie jaar af word daar nie meer vir die buffetdiens
betaal nie, en met dié verdienste het hulle begin om die pryse te
koop. Almal was weer herenig om vasberade saam te werk met een
doel: om dit nie toe te laat dat dié fees ooit sal uitsterf nie!
|
|
Deesdae is die Boeresport bewaar danksy die wense van ´n groep Boere-nedersetters se afstammelinge, wat - verenig in die Suid-Afrikaanse Klub - hulle kulturele erfenis en tradisies deur die tyd heen wil behou. Vir drie dae bly hulle in tente, net soos in daardie ou dae toe hulle voorouers na hierdie onbewoonde Patagonië aangekom het. Hulle maak soos hul ouers, oupas, oumas of oupa-grootjies en ouma-grootjies: elke gesin is besig om sy eie kos te kook in die buitelug en hulle deel die vreugde om weer mekaar te ontmoet. Hulle kies ook steeds die ‘Koningin (net soos ‘n "Miss") van die Sport’. Hierdie tradisie noem hulle gewoonlik 'Sport'. Die fees is baie gesond, met families, nie baie alkohol nie, dis ´n gesonde ontmoeting. ![]() Een aand was daar ´n sokkiejol met Afrikaanse boeremusiek en ook egte Argentynse musiek. Ons het daar 'Sarie Marais' en 'Tannie met die rooi rokkie' gesing, met baie ander liedjies. Hulle moet ´n masjien saambring om water te delwe want daar is niks water daar nie. Hulle doen rêrig ´n groot inspanning om hierdie Sport te vier en bewaar want dit kos baie geld, maar hulle wil hul kultuur bewaar. Hulle moes selfs die pad saam met die burgemeester van Sarmiento klaarmaak. ’n Mens moet darem beter met ´n 4x4 soontoe gaan. ![]() Meneer Daniel Botha, ´n Afrikaanstalige Argentiniër, met sy egte braaivleis! Dis baie lekker kos, daai! Vriende van die Boere, kom kuier! Ek was daar vanjaar (Februarie 2004). Daar het ek met die Boere gesels - party van hulle praat mooi Afrikaans - en van dié lekker saamwees het ek foto’s geneem. Alle foto’s op hierdie webbladsy het ek toentertyd gemaak. Op die dansaande sing hulle liedjies soos "Tannie met die rooi rokkie", "Sarie Marais" en ander ou boeremusiektreffers. Maar hierdie fees is nie vir net enigiemand geskik nie. Net die mense wat nou rêrig beplan om ´n Suid-Afrikaanse Boerefees te gaan vier sal dit geniet, want Sierra Chaira lê in die gramadoelas, in die middel van die Patagoniese woestyn. Tydens hierdie ‘BoereSport 2004’ was die weer baie warm. Bedags was dit deurentyds 37ºC sodat die mense vir mekaar in Afrikaans sê: "Die son brand!!", maar in die winter, word die Sierra Chaira met sneeu bedek, en daal die temperatuur tot onder die vriespunt. "Sierra Chaira" beteken in Afrikaans "Staalberg". Die naam kom van ´n Boer wat op daardie plek ystererts gevind het. ![]() Ons het almal in tente gebly Die Boere is daar baie vriendelik en almal wat regtig belangstel, is baie welkom om daar te wees!! Dit is een van die talle voorbeelde van immigrantekolonies in Argentinië wat ’n groot verryking vir ons land beteken. Tot siens by die Boere in Patagonië! ![]() Welkom by die Boere in Argentinië / Argentina! Die Roepstem, Voorschoten, Nederland: Kopiereg 2004 Geskryf deur Jerónimo Ignacio Pino Coviello, in Argentinië. Redigeer deur Marcel Bas. |
Wilt U reageren? U kunt De Roepstem een e-mail sturen: 
