DE ROEPSTEM - DIE ROEPSTEM
Suid-Afrika





 en NamibiëVlaanderenNederland en de Nederlandse AntillenSuriname

Na





 die Hoofbladsy van Die Roepstem

Naar Thuisbladzijde









Onderhoud vir In Diepte

Oor identiteitspolitiek en die toekoms van Afrikaners en Europeërs




Onderhoud wat Jakes Möller met Marcel Bas van Die Roepstem gevoer het vir die rubriek In Diepte in die Februarie-uitgawe in 2008 van die Oraniabeweging se tydskrif Voorgrond. Dit volg op die konferensie in die Afrikanerdorp Orania waar Bas op 11 Augustus 2007 'n referaat oor identiteitspolitiek in Nederland gelewer het.

-----------------------

Die Nederlander Marcel Bas het 'n jarelange belangstelling en verbintenis met Afrikaans en Afrikaners. Verder is hy ook 'n Nederlandse en Afrikaanse taal- en kultuuraktivis wat vanuit hierdie gemeenskappe 'n weerwoord op die globalisme wil bied. Na 'n ontmoeting met verteenwoordigers van Orania is hy uitgenooi om as spreker by die konferensie oor identiteitspolitiek in Orania op te tree.


    1. Vertel ons kortliks wat jy doen, waar jy woon en waarvandaan jou belangstelling in Suid-Afrika, Afrikaners en Afrikaans.

Ek woon sedert my kinderjare in die mooi Suid-Hollandse dorp Voorschoten. Sedert 1998 werk ek as ’n voorligter en daarna as ’n fasilitêre koördinator by ’n groot onderwyssentrum in Leiden. Daarnaas studeer ek Taalkunde by die Universiteit Leiden en verrig ek vertaal- en redigeerwerksaamhede.

My belangstelling vir Afrikaans het begin, toe ek agtien jaar was. Ek het reeds jare lank al, belanggestel in oorblyfsels van die Nederlandse volk oorsee en toe ek Afrikaans op die radio gehoor het, was ek betowerd. Al wat ek wou doen, was om meer te wete te kom oor hierdie taal, sy mense en hulle kultuur. Nederland was egter baie afkeurend ten opsigte van Suid-Afrika en toe kom ek in die negentigs agter, dat Nederlanders baie eensydige inligting oor die land gekry het en dat daar geen spesiale belangstelling in Afrikaans en sy kultuur was nie. Dit het ek baie vreemd gevind: ons is julle broedervolk, maar al wat ek gevind het was die negatiewe propaganda en daardie ongeïnteresseerdheid in julle taal en ’n ontkenning van ons besonderse eenheidsband. En andersyds was daar hierdie fanatisme waarmee mense in Nederland hulle liberale politieke ideale op Suid-Afrika wou projekteer. Dit het my nog meer vasberade gemaak om uit te vind wie die Afrikaner en sy taal is, sonder om deur die algemene opinie vertel te word wat ek oor die Afrikaner en sy land mag dink en te wete mag kom.




    2. Waarom het jy Die Roepstem tot stand gebring?

Ek het die webwerf in 1999 begin, aanvanklik net om teenkanting te bied aan Nederlandse ongeïnteresseerdheid teenoor die afskaling van Afrikaans in Suid-Afrika. Nederlanders het mos geglo dat Suid-Afrika ’n regverdige land was en dat alles sou regkom as daar vryheid van spraak en demokrasie is. Ek wou wys dat daar egter ook ’n verbete kulturele stryd vol van vergeldingsdrang en diskriminasie besig was om in Suid-Afrika te ontvou, en dit vereis spesiale kulturele betrokkenheid en besorgdheid vanuit Nederland en Vlaandere. Later het Die Roepstem ook die Nederlands-Vlaamse-Suid-Afrikaanse eenheid benadruk en ek het artikels oor nasionale en plaaslike identiteit en trots geskryf. Verder het ek Afrikaans-Nederlandse woordelyste saamgestel, artikels oor Nederland binne Europa geskryf en artikels oor Europa as beskawing. Verskeie auteurs het aangesluit met hul eie sienings en kennis, soos oor die Lae Lande, oor kultuurgeskiedenis en oor die Boere in Argentinië.




    3. Wat is die huidige stand van identiteitspolitiek in die Lae Lande en ook groter Europa? Behaal partye wat hulle besig hou met identiteitspolitiek (ek dink bv. aan Leefbaar Rotterdam, Partij voor de vrijheid en (voorheen) Lijst Pim Fortuyn) sukses?

Nee, dié partye se huidige stand is sleg, en self bereik hulle maar min (behalwe vir Leefbaar Rotterdam in die stadsraad van Rotterdam). Maar laat my eerstens sê: ek glo nie dat partypolitiek of demokrasie die regte metodes en meganismes is om ‘n krisis te keer wat deur die einste metodes en meganismes - partypolitiek en demokrasie - ontstaan het nie. Ek het nooit in die nut van politieke partye geglo nie. Nee, identitêre partye stort ná ‘n paar jare gewoonlik in duie. Identitêre politieke partye kry mos swaar in Nederland, omdat hulle ‘n gevaar vorm vir die bestaande, gevestigde politieke partye se gedagtegoed. Hulle staan gewoonlik onder hoë druk (Centrumpartij, Centrumdemocraten, Lijst Pim Fortuyn, Nieuw Rechts). Dié partye maak daarnaas gebruik van ‘n lelike en simplistiese populisme, waardeur hulle aan hulself die rol van die enkeling teen die res toebedeel. Hierdie taktiek is aanvanklik meestal gunstig om ‘n groeiende aantal kiesers te verwerf. Dit laat gevestigde partye baie skrik. Maar populisme is nie gunstig vir ‘n in-diepte benadering van probleme en beleid nie, en dit fnuik hierdie partye se geloofwaardigheid (soos by die Partij voor de Vrijheid van Geert Wilders). ‘Underdog’-partye trek baie kiesers, maar hulle versamel ook politiese opportuniste en onbetroubare eenlinge sonder visie (Lijst Pim Fortuyn, Nieuw Rechts), wat moeilik kan saamwerk binne ‘n partyraamwerk. Hulle raak verblind deur hul eie populariteit, selfoorskatting en deur die gejaagdheid en dadedrang binne hul eie geledere. Nogmaals dink ek nie dat partikrasie die regte manier is om iets in Europa te verander nie. Die gevestigde partye neem egter heelwat standpunte oor, waardeur identiteitspolitiek darem binne liberale raamwerke wel uitgevoer kan word. Vandag se liberale en christelike partye lyk heelwat trotser op die Nederlandse identiteit as gedurende die Negentigerjare. Dieselfde het gebeur in die res van Wes-Europa. In Frankryk het die Gaulliste van Sarkozy baie patriotiese, anti-islamistiese en anti-Amerikaanse standpunte oorgeneem van enkelinge of nasionalistiese partye soos die Front National, Philippe Séguin en Philippe de Villiers. ‘n Mens kan sê dat identiteitspolitiek ‘n goeie hupstoot gekry het, danksy die alledaagse werklikheid wat op die ou end nie meer ontken of geïgnoreer kon word nie (immigrasie, identiteitskrisis). Nie die identiteitspartye het dit reggekry nie, maar die liberale partye wat hulle standpunte oorgeneem het. Dit is op sigself nie negatief nie, maar wel heeltemal roemloos vir dié mense wat binne sulke partye alreeds in die tagtigs en die negentigs so moedig was om hierdie onderwerpe te bespreek.




    4. Watter probleme ervaar Nederlanders wat ‘n eie identiteit bevorder in hul eie ('autochtone') geledere?

Dit hang af. Daar is teenkanting en uitsluiting, tensy jy dit binne die raamwerk van ‘n liberale party probeer bevorder. Nederlanders is geen kulturele of moedige volk nie; ons is handelare. Ons sal self sien hoe lank ons dit kan volhou. Identiteitsbewussyn by inheemse Nederlanders is verdag en dit is daarnaas glo gevaarlik omdat die Tweede Wêreldoorlog en die Holocaust ons gewys het wat identiteitstrots by die meerderheid van ‘n volk kan doen. Sulke wanpersepsies bestaan nog steeds. Identitêre groepe is baie klein en het min invloed. Mense is meestal bang vir hulle eie toekomstige werksgeleenthede en geloofwaardigheid. Buiteparlementêre identiteitsgroepe word nie heeltemal ernstig geneem nie, gestigmatiseer as rassisties en fascisties, terwyl partye onder baie druk verkeer. Grondwetlik gesien is daar alle vryheid vir sulke groepe om te sê en te skryf wat hulle wil, maar die praktyk is anders.
"Identiteitsbewussyn by inheemse Nederlanders word vandag as verdag beskou"

Eerstens is daar die gevaar dat aktiewe lede tot ver in die toekoms gestigmatiseer word deur die gevestigde orde, tweedens is daar die gevaar dat anarchistiese en selfverklaarde antifascistiese groepe op gewelddadige wyse - volgens hulle - ver-regse byeenkomste versteur en lasterlike dinge oor dié organisasies en individue skryf, en derdens is daar die binnelandse intelligensiediens wat dergelike groepe infiltreer en lede manipuleer. Ek ken twee mense wat sedert die Negentigerjare nog steeds ‘n beroepsverbod het omdat hulle Centrumpartij – wat in die Tagtiger- en Negentigerjare in die parlement verteenwoordig was – suksesvol was. Daar was in die Tagtigerjare selfs op hulle toerbus geskiet toe hulle op verkiesingstoer gaan. Hulle het die kastaiings uit die vuur gehaal, maar hulle was te vroeg gebore, want mense wat twintig jaar later ná Pim Fortuyn (wat deur 'n anti-fascis doodgeskiet is) aktief geword het, het aanmerklik minder teenstand ondervind as die mense wat vroeër aktief was. Pim Fortuyn was immers ‘n lidmaat van die aanvaarde, oorspronklik links-liberale netwerk (vroeër ‘n Marxistiese student), “De Linkse Kerk”, soos hyself later na hierdie netwerk verwys het. Vandag sê Geert Wilders van die Partij voor de Vrijheid, gewese minister Rita Verdonk (vandag van die beweging Trots op Nederland) en die mense van Leefbaar Rotterdam, dieselfde ver-regse dinge as die Centrumpartij, maar hulle word nie vervolg nie. Die tye het gelukkig verander, maar net vir liberale mense.




    5. Waarom het Nederlanders teen die aanvaarding van die Europese grondwet gestem? Wat is jou mening oor die toetrede van Turkye tot die Europese Unie?

Ek dink die Nederlanders was keelvol dat hulle gedurende meer as veertig jaar geïgnoreer was in die diskussies oor die toekoms van die Europese Unie. Die uitbreiding en verdere verstaatliking van Europa was nooit ’n tema tydens verkiesings nie, en ondertussen het die neoliberale elites voortgegaan met hul ingrypende besluite. Ek onthou hoe geïrriteerd en verbaasd ek hieroor was, in die Tagtiger- en Negentigerjare.
"Ek dink die Nederlanders was keelvol dat hulle vir meer as veertig jaar geïgnoreer was"

Die 2005-referendum oor die Europese grondwet was die heel eerste geleentheid wat die burgers gehad het om saam te praat en ietsie te verander aan die voortrydende, oënskynlik onbeheersbare EU-trein. Daarnaas is die meeste Nederlanders teen die Turkse toetrede, en die EU (en Amerika) is ten gunste daarvan. Nederlanders voel aan dat Turkye geen Europese land is nie; dit was ’n ander belangrike rede vir ons “Nee”. Ek is sterk gekant teen die Turkse toetrede. Turkye is ’n moslemland, en dit was altyd Klein-Asië. Die Turkse volkere strek uit van Turkye oor Azerbaidjan na Oezbekistan, Kazakstan en na Sjina. Dit is beter as die Turke daarop fokus. Indien Turkye toetree, dan sal daar ’n derde golf van massa-immigrasie na die ryker Weste van Europa volg, met alle destabiliserende sosiale en kulturele gevolge. Tewens dink ek dat Europa in ’n nog dieper identiteitskrisis sal val omdat die begrip ‘Europa’ sterk afgewater sal wees: hoe kan ons nog ander nie-Europese lande – soos Marokko, Algerië en Kazachstan – uitsluit as ons “besluit” dat Turkye ewe skielik Europees is? Wat is Europa nog? Dit lyk vir my dat die Europese burgers dit nog wel kan aanvoel. Die EU dink eerder in terme van nuwe markte en groei. Ek voorspel tewens ’n ineenstorting van Turkye as dit die vereiste EU-wette implementeer. Die wette eis dat die sterk sekulêre Turkse weermag sy stabiliserende greep op die land se bestuur los en dat daar meer demokrasie ingevoer word. Die Moslim Broederskap sal d.m.v. demokratiese reels nog meer mag verkry, en die Koerde in die Ooste sal probeer om onafhanklikheid te kry. ’n Toetrede is sleg vir Turkye, maar ook vir Europa en vir die hele Midde-Ooste. Ek dink Europa moet sy grense leer herken en waardeer, ongeag wat die pro-Turkse Amerika of die groot olie- en gasbronne in die Midde-Ooste sê.




    6. Ek merk die terme “cultureel defaitisme” en “weg met ons” mentaliteit in jou geskrifte. Kan jy verduidelik wat jy daarmee bedoel?

Ek bedoel met “cultureel defaitisme” die gemaksugtige gedagtes wat die meeste Nederlanders kry as hulle op internasionale vlak moet opereer, hetsy binne of buite Nederland. Hulle dink dat die Nederlandse taal te onbeduidend is om te bemark. Ons universiteite wil Engels as voertaal instel tydens die meestersfase net om buitenlandse studente aan te trek. Nou gebeur dit dat ’n Nederlandstalige dosent veertien Nederlandstalige studente in Engels onderrig. Dieselfde gebeur by groter maatskappye in Nederland. Omdat daar een of twee Amerikaners op die werkvloer is, is die voertaal Engels. Ek ken talle buitenlandse jongmense wat sê dit is jammer dat hulle nie eers meer die noodsaak voel om Nederlands te leer nie: almal neem outomaties aan dat buitenlanders in hul eie internasionale kokon wil leef, en dat ons hulle nie moet belas met ons eie kultuur nie. Ek dink juis dat internasionalisering beteken dat jy uitwissel: dat jy vir ander nasies wys hoe mooi jou taal en kultuur is. Die Nederlandse mentaliteit verklaar ook die beleid dat buitenlanders in die Sewentiger- en Tagtigerjare nie eers Nederlands hoef te leer nie. Dit het rampsalige gevolge gehad vir hulle en hul kinders, want hulle het hier gebly en wou nie meer weggaan nie. Sommige inheemse Nederlanders het selfs voorgestel dat ons maar liewer Turks of Marokkaans moet leer. Hierdie houding ten opsigte van jou eie taal skaar ek onder die “Weg-met-ons-mentaliteit”: die wêreld verander en word internasionaler, dus ons kan maar beter ontslae raak van ons hinderlike taal en kultuur. Sedert Pim Fortuyn se opkoms is hierdie mentaliteit egter besig om invloed te verloor.




    7. In sy onlangse boek, Terwijl Europa Sliep, voer Bruce Bawer aan dat Europa besig is om kulturele selfmoord te pleeg deur immigrasie en demografiese patrone. Wat is jou mening?

“Ons sal Frankryk inneem met die mae van ons vrouens”, het die gewese Algerynse president Houari Boumédiene verklaar. Dit is waar dat die islam ‘n baie ekspansiewe religie is. Emigrante (“bannelinge”, so sê Mohammed) bevind hulle nou in die Lande van Oorlog (Dar-al-Harb), almal – selfs die inheemses in die Dar-al-Harb - is eintlik moslems, maar die inheemse gashere besef dit nog nie. Almal is glo gebore as moslems. Daar is ‘n duidelike opdrag aan die belydende moslems as dit neerkom op bekering en verandering van jou onwenslike omgewing. Die meeste moslems geniet dit egter in Europa, hulle geniet die welvaart, die goeie voorsienings en infrastruktuur, die geleenthede wat hulle kry, en die meeste moslems wil sommer ‘n gelukkige lewe met ‘n groot gesin hê. Dit lyk daarop dat die Islam hier is om te bly. Mense in 'n diaspora vertoon sterk konserwatiewe neigings en moslems kry baie meer kinders as inheemse Nederlanders. Dit is ‘n vreeslike groot probleem: ons weet almal hoeveel eeue dit geneem het voordat die Joodse gemeenskap in Nederland aanvaar was deur die nie-Jode, en andersom. Ten spyte van alle naïewe geloof in die menselike verdraagsaamheid en vermengingsideale: mense is nou maar groepdiere met identiteite en kollektiewe gevoelens. Ek dink daar gaan baie sosiale en kulturele teespoed in die toekoms plaasvind. Die massa-immigrasie wat tot vandag toe aangaan, is ‘n historiese vergissing wat die toekomstige generasies ons baie sal verkwalik.




    8. Uiteraard wil nóg ware Afrikaners nóg ware Nederlanders/Vlaminge sien dat ons kultuur verdwyn. Watter strategie stel jy voor vir die behoud en bevordering van ons kultuur en identiteit?

Lééf jou identiteit. Raak aktief in kultuurorganisasies en/of gee hulle geld. Jy hoef nie ’n politikus of ’n beroemde te wees om jou eie kultuur te behou nie. Hou, byvoorbeeld, gereeld ’n aandete vir jou vriende waarby jy tradisionele kos maak, met tradisionele musiek op die CD-speler. Ondersteun plaaslike musiekverenigings, reel benefietkonserte, kom saam en reel iets, maak ’n bohaai op jou werk of organiseer gesamentlike verset as jy sien jou taal word afgeskaal, skryf briewe na koerante, maak webwerwe, hou lesings, trek besigheidsmense aan vir jou kultuurvereniging, ens.
"Daar is meer in die lewe as materialisme en blink karre en sport"

Daar is meer in die lewe as materialisme, blink karre en sport. Ek glo dus meer in die kleinskalige benadering en in die navolging van jou eie idees; dus om stadigaan te begin, en daarna kan jy aktief raak binne 'n organisasie. Politieke Partye is te vlugtig en te koorsagtig. Hulle kort introspeksie en bedaardheid, net soos die elektoraat dit kort. Die elektoraat raak gou moeg van jou gesig en dit verwag wonder-oplossings van jou. Massas is prikkelbaar en onstabiel. Gaan asseblief net aan met wat jy dink is goed: moenie laat enigiemand jou agenda bepaal nie. Dit klink nou alles baie swaar, maar so voel ek daaroor. Gaan net voort en lééf jou kultuur, en wys dit vir jou kinders, bure en vriende. Ek dink dit is waarom Orania so suksesvol is en gedurig ’n boodskap die wêreld instuur, net omdat Orania, Orania is.




Marcel Bas, Voorschoten.



Wilt U reageren? U kunt De Roepstem een e-mail sturen: Stuur 'n boodskap! Terugvoering word gewaardeer.

Roepstem Inhoudsopgawe / Inhoudsopgaaf:

| De Roepstem Hoofdpagina / Tuisbladsy | Onderhoud met Marcel Bas in tydskrif In Diepte | Identiteitspolitiek in Nederland | Bezoek aan Zuid-Afrika in 2007 | Traditionele muziek van eigen bodem en van de Afrikaners | Menno van Coehoorn en de vesting van Namen | De Vier Heemskinderen | Wallonië is deel van de Nederlanden | Virginia Woolf's class consciousness | Boekbespreking: Hermann Wirth | Engelbert Dollfuss: corporatisme in Oostenrijk | António Salazar: corporatisme in Portugal | A la recherche du sens perdu? | De noodklok luidt voor het Afrikaans | De knieval van de Mondriaan Stichting | The Meaning of Tradition in Homer's Odyssey (English) | The demise of the Scots spelling system (English) | Waarom een Hollander een (halve) Vlaming is | Vlaanderen, de Calimero van West-Europa | De Waalse bijdrage in de Opstand | Haarlem heeft een Vlaams gezicht | Zannekin Jaarboek 2005 | Turkije is niet Europees | Tegen EU-toetreding Turkije | Invloed van Afrikaans op Zuid-Afrikaans Engels | De Reformatie in de Nederlanden | Op besoek by die Boere-Sports in Patagonië, Argentinië | De Vlaamse Beweging en de (toekomstige) macht | Verengelsing in Nederland en Suid-Afrika" | Afrikaans, die Sondebok | Leiden, een Heel-Nederlands succesverhaal | Zuiderse kijk op de Nederlanden | Nederlandse handelscompagnies (1602-1795) en verbreiding v/d Nederlandse taal en cultuur | Groen van Prinsterer en de Scheuring van de Nederlanden | Die trotse honderdjarige gemeenskap van Afrikaners in Argentinië (1902-2002) | De Engelse ziekte van Tijdschrift Cosmopolitan | Van der Postgastehuis in Philippolis, SA | Pieter Geyl in Zuid-Afrika | Kleurryke en Kultuurryke Nederland; Kleredragte | De Nederlanden in de 21ste eeuw | De herrijzenis van een vertrapte taal en cultuur | "Er zijn geen Belgen!" | Bijdrage van de Stichting Taalverdediging aan De Roepstem | Frans Vlaanderen | Prof. dr Geyl: "Zuid-Afrika in Heel-Nederlands verband" | Groot-Nederland versus Heel-Nederland? | Taalverslapping is Taalverloedering | Afrikaans - Nederlandse Valse Vrienden | De Nederlanden in het Verenigd Europa | Boere-oorlog: Generaal De Wet Herdenking in Nederland | ANC-cultuurimperialisme bedreigt Afrikanercultuur | Paul Kruger en zijn Volk | "Julle Nederlanders vermoor julle eie taal!" | Afrikaans-Nederlandse opmerkelijke verschillen | De twee Nederlandse Volksliederen | Die Suid-Afrikaanse Volksliedere | Die Vlaamse Volkslied; De Vlaamse Leeuw | Die Volkslied 'Die Afrikaanse Leeu' | Het Wilhelmus; volledig en oorspronkelijk | Het Surinaamse Volkslied | Deel I Discussie: Prof. P.C. Paardekooper | Deel II Discussie: Hans van Zelsts Reactie | Deel III Discussie: Reactie Van Oostrum op Van Zelst en v.v. | "Die Genootskap van Regte Afrikaners" | Introduction to Afrikaans and the Discrimination it faces (English) | The United Europe as an Antidote to a democratic Nation-State in the Ideas of F. Nietzsche (English) | Holland and its People; ingescand boek van Edmondo de Amicis (English) |



Hierdie onderhoud is geplaas in die rubriek In Diepte in die Januarie 2008-uitgawe van die tydskrif Voorgrond.



Na die Roepstem Hoofbladsy
Naar Thuisbladzijde


of:

Naar boven

eXTReMe Tracker