Marcel Bas
Op Maandag 22 en Dinsdag 23 September 2009 het ‘n groot konferensie, kultuurfees en uitstalling plaasgevind op die kampus van die Universiteit van die Wes-Kaap. Dit was ‘n groot succes. Roots is, ten spyte van sy Engelse naam, ‘n hoofsaaklik Nederlands-Vlaamse en Afrikaanse inisiatief.
Roots is een van die aktiwiteite wat voortgekom het uit gesprekke in Februarie 2008 in Kaapstad, tussen die Nederlandse Staatsekretaris vir Europese Sake, mnr Frans Timmermans en die toenmalige Suid-Afrikaanse minister vir Kultuur, mnr Pallo Jordan.
Hulle het onder andere ooreengekom dat die Suid-Afrikaanse regering, die Vlaamse regering en die Nederlandse regering hulle sal beywer om meer kulturele uitwisseling tussen die Vlaminge, Nederlanders, Suid-Afrikaners en die Nederlandssprekendes in die voormalige kolonies tot stand te bring.
Roots het dan ook ten doel gehad om taalverhoudings te smee tussen Suider-Afrika (dus insluitende Namibië) en die Nederlandstalige wêreld, en om samewerking uit te bou. En nou stem die organiseerders, die deelnemers en die besoekers daaroor saam: Roots moet ‘n vervolg kry in 2010!
Op Maandag en Dinsdag was daar die konferensie met die tema Spreek, Thetha, Talk: ’n Suid-Afrikaans-Nederlandse dialoog oor die dinamika van Taal, Kultuur en Erfenis en op Dinsdagmiddag en -aand was daar die verskeie optredes en filmvertonings. Kom, ek noem van die onderwerpe wat tydens die konferensie bespreek was, en ek noem van die deelnemers:
Oor Afrikaans, taalbetrekkinge tussen die Nederlandssprekende wêreld en Suidelike Afrika en ander sake: Prof. Jakes Gerwel in gesprek met proff. Antjie Krog en Geert Buelens;
Taal as instrument van nasiebou, versoening, restitusie: met dr. Neville Alexander (buitengewone professor Afrikaans en Nederlands) en prof. Guus Extra (Univ. Tilburg)
Die ver-/ontpolitisering van Afrikaans: met prof. Hein Willemse (Univ. Van Pretoria) en prof. Wannie Carstens (Afrikaanse Taalraad)
Is Nederlands vry van politieke bagasie? Nederlands in die Antille en Suriname: met prof. Gert Oostindie (Kon. Instituut voor Taal-, Land- en Volkenkunde in Leiden) en mevrou Helen Chang (Nederlandse Taalunie, Suriname)
Taalstandaardisering, variëteite van Afrikaans: met prof. Ernst Kotze (van die NMMU; voorheen Universiteit van Port Elizabeth) en prof. Frank Hendricks (Univ. Wes-Kaap)
Van die ander aktiwiteite was die uitstalling en die optredes op Dinsdag:
- Alles is liefde (dokumentêr)
- Optrede van die Namibiese Kultuurgroep
- Koperinstrumenteorkes van Franschhoek
- UCT Brass Quintet
- Volkspele
- Grey Kollege-orkes
- Kaaps-Maleise Koor
- Typhoon (= Nederlandse rapper)
- Roosbeef (= Nederlandse rockgroep)
Hierdie tipe inisiatiewe wil wegbeweeg van die tradisionele, uitsluitlik-Afrikaner feeste, en probeer om die Nederlandse en Afrikaanse taalwêreld binne Afrika en die res van die wêreld sy plek te laat vind. Dit is ‘n suksesvolle formule omdat dit ook jonger, minder aan die grond gebonde, Afrikaanse, mense sal aantrek. Dit is jongmense wat nie meer geassosieer wil word met die skuld van hul voorouders of met die Afrikaanstalige gemeenskap se plaaslikheid. Dit is hoekom die organiseerders vir die Engelse naam Roots gekies het.
Hoe dit ook al mag wees: die Afrikaanse en die Nederlandse taalwêreld sal nader kom en hulle kan mekaar versterk, juis deur middel van hierdie konferensie en fees. Dit sit Afrikaans en Nederlands in die kollig. Kom ons vier ons wortels en ons gemeenskaplikhede, en ons besoek die Roots 2010!
Marcel
Bas, Voorschoten.